04 August 2008

Rugby en my eerste werk!!!




Hoe gaan dit? Ons is besig om te vries van die koue in Perth, was vanoggend 2 grade!!! Gelukkig is dit darem amper Lente en die dae raak alklaar langer. Daar het al soo baie gebeur vandat ek laas geskryf het! Die jaar het verby gevlieg en ek kan byna nie glo dat ek oor 13 weke klaar is met my graad nie! Yeah! Ons skryf die 10e Augustus ons enigste en laaste vraestel en dan is dit alles klaar. Ongelooflik. Ons het intussen al Cron se verjaardag gevier en was weg vir 'n heerlike naweek in Mandurah, so 25 minute se ry suid van Perth. Dit is so 'n pragtige kusdorpie wat baie vinnig aan die ontwikkel is en meestal vir toeriste ingerig gaan word. Ons het byna 'n uur rondgery opsoek na take away maar dit sal seker beter word ;-)

Verder was ons die GROOTSTE bokke ondersteuners by die bokke vs Aus game hier in Perth. Ons was behoorlik aangetrek met elke enkele bokke outfit wat mens kan kry! Ons het tops, 'n vlag, serpe, hoedjies en 'n kombers gehad - alles in die groen en goud. Was 'n ongelooflike ervaring om die bokke te sien speel en ons het ons longe uit gecheer!! Ons vriendin het to selfs 'n banner gemaak wat gese het : " Ma, hier is ons!!!" maar ons het nie die big screen gemaak nie :-( Die een ou het 'n oulike banner gehad van "Boer soek 'n vrou" met 2 selfoon nommers by! Die hoeveelheid Suid-Afrikaners by die game was ongelooflik en jy het net Afrikaans om elke hoek en draai gehoor!

Dit gaan baie goed met ons die kant, Cron het 'n nuwe werk aanvaar en is baie gelukkig. Hy ry sommer fiets werk toe so naby is dit. ( Is seker nodig nadat hy 'n boks van 30 Ferrero "No Shares" Rochers gekry het vir sy verjaardag! ) Ons bly nog baie lekker in die woonstel - ons is nie eintlik veronderstel om enige iets teen die mure op te sit nie, maar ek het dit reggekry om 'n paar van ons vriende en family op te sit en tot 'n paar stunning foto's wat Eberhard geneem het! Ons sal verseker nog 'n jaar ten minste hier bly, want..... Ek het my eerste werk aanvaar!!!!! Ek het 'n intern pos gekry by Sir Charles Gairdner Hospital, die hospitaal wat net langs ons woonstel is!Dit is so 5 minte se stap (letterlik oor 'n rugby veld!) .. dalk 7 minute as ek regtig stadig stap, en dan is ek by die werk! Ons hoef hier net 1 jaar te doen (dit tel dan as ons zuma/gemeenskap/huisdokter jaar) en dan kan jy besluit waarin jy wil spesialiseer of net werk. So vir volgende jaar het ek nou die pos by die hospitaal aanvaar en dan sal ons kyk wat my volgende stap is.

Ek mis julle almal nog baie en lees elke dag op Die Burger wat aangaan :)En dan seker die beste nuus wat ek het: My ouers kom kuier vir ons oor 'n maand!! Ek kan nie meer wag nie en sien sooo baie daarna uit om hulle weer te sien. Ons gesels byna elke liewe dag op die foon, maar ek gaan hulle sien julle!!

So, dit is vir eers al nuus wat ek het. ( O ja, een van die snaakste goed die week was een van ons vriendinne wat swanger is se snaakse cravings... haar aandete was: Cornflakes met melk, suiker en KAAS!!!!)

Hoop dit gaan nog baie goed met almal!
Liefde
Marcelle

01 May 2008

2008


Hoe gaan dit? Sjoe, my eerste briefie van 2008... en ons trek al in MEI! Dit was 'n ongelooflike jaar sover. Ek het die jaar afgeskop met my elektief in Dermatologie en het 'n baie goeie tyd gehad. Dalk doen ek nog eendag iets in Derma, sal maar sien waar die pad my vat :) En toe het ek 4 wonderlike, ongelooflike, weke gehad in my vadersland. Dit was soooo lekker, ek gaan dit moeilik vind om te beskryf. Die plek was sooo mooi en ek het heerlik gekuier. Die aankoms was nogals ietsie wat ek vir altyd sal onthou, ek het vir MAANDE daarna uitgesien!


Ek het eerste by my sussie en boeties gekuier in Pretoria en Landie het my soos 'n celebrity op die lughawe ingewag- bordjie wat se: "Mevrou Wolvaardt" en als. Dit het nog 'n storie daaragter: Ons was in 1998 as 'n familie saam oorsee en toe ek die mense op Parys se lughawe sien met al hierdie bordjies ( natuurlik in Frans geskryf) dog ek hulle is werkloos en bedel!!! Inelkgeval, ek was in trane om my wonderlike sus te sien en ons het 'n hond uit 'n bos gekuier! Ek kon lekker saam met my boeties, Abri en Gerno ook kuier en het tot selfs na 'n Ferrari show toe gegaan saam met hulle! Dit was ongelooflik om weer al 4 saam te wees en net te kuier.Kaapstad: my ma het my ingewag op die lughawe en dit was soos uit 'n movie- trane, tasse neergooi en omhelsing oor die reelings! Dit was ongelooflik om haar te sien. By die huis het my pa gewag en die hele tranedal was weer van voor af! Dit was sooo lekker om by die huis te wees! Sjoe, ons is sooo bederf en my ma'lle het die yskas propvol gehad!! Die hele 4 weke was ongelooflik en dink nog gereeld daaraan. Ek kon weer opvang met al my spesiale vriende en dit het gevoel asof ek nooit weg was nie. Ek het 'n baie spesiale naweek saam met my vriendinne gehad en ons het byna niks geslaap nie- van alli gesels! ( jou gemis Ann!!!) Ons het toe 'n heerlike week gespandeer by Dikhololo ( Tokolollo soos iemand sou se :) in die Bosveld saam met my boeties,sussie,Warren en Emma en dit was die perfekte afsluit van ons vakansie. Ons het 'n heerlike tyd gehad en ek kan nie wag om weer te kom kuier nie!


Hierdie kant het my jaar ook begin (eers lekker in die helfte van Maart! ) en is ek nou offisieel 'n "pre-intern" soos hulle ons hier noem. Ons kry begin November graad, so dit is minder as 7maande!! Kan nie glo nie. Ek hierdie week klaar met my eerste blok en dan nog net 3 om te gaan. Is nou lekker gemaklik in Perth en ek geniet dit terdee. Die taal is nie meer so vreemd nie ( ek het darem nog 'n trotse SA aksent! )en ek verstaan nou hoe dinge werk. Het totselfs 'n "tax file number" en "superannuation"fonds! Dit is darem snaaks om te sien hoe ver mens kan kom in 'n jaar.( en hoe aanpasbaar mens eintlik is! )


Verder is die weer besig om te verander dit raak nou Herfs die kant. Die bome is sooo mooi en dit is die perfekte verskoning vir pannekoek vir aandete! ( ek maak deeg aan en Cron bak:) Ek kan nie glo dit is al my tweede Herfs in Perth nie!!!!!!
Hoop dit gaan baie goed met almal.
Mooi bly en baie liefde
Marcelle

30 December 2007

19 December 2007

Kersfees.....

Ek hoop dit gaan nog baie goed met almal, net nog 5 daggies en dan is dit KERSFEES!!!! Ek kan regtig nie glo dat die jaar amper op sy rug le nie, sooo baie dinge het gebeur en ek het soveel stories om te vertel :) Ek sit nou hier en tik vir julle terwyl my shortbread koekies in die oond bak en die beskuit staan en wag ook hulle beurt af - vandag was bakdag en ek het seker 'n halfdosyn baksels koekies en beskuit aangemaak! Helfte is darem vir geskenkies,soos vir ons buurtannies en vriende, maar die res is vakansie bederf! Ons woonstelblok het baie ouer mense in en hulle doen vreeslik moeite met die kersversierings - tinsel om die trappe en 'n hele kerstoneel op die eerste vloer, so dit voel behoorlik soos kersfees die kant. Ons het eergisteraand my kersliggies ( dankie vir die pakkie mamma! ) opgesit en ons het 'n oulike playlist opgestel met 'n paar BONEY M treffers :) Te lekker!
Verder gaan dit baie goed die kant, ek is tans besig met my elektief in Dermatologie by die hospitaal net agter ons en geniet dit vreeslik baie.My jaar het baie goed afgeloop, ons het ons punte so 2 weke gelede gekry en dit het baie goed gegaan, ENGELS en al!!! Dt was nogals 'n drama, want hulle bel jou as jy NIE deur is nie, en die dae wat hulle uitgesit het was Dinsdag, Woensdag en Donderdag, so vir 3 dae lank hou jy jou foon dop en skrik jou boeglam vir elke vreemde nommer!Gelukkig was daar geen vreemde oproepe nie!!! En ek het bestuurlisensie ook gekry!!Ek moes wraggies die hele besigheid oordoen, van learners gaan skryf tot vir die prakties rytoets ook gaan --- AAKLIG!!! En hier is nie toetsbane nie, nee, hulle vat uit in die dorp en dan moet jy ry. En dan is daar sulke oefeninge, soos jy het iets by jou huis vergeet en dan moet jy omdraai en dan moet jy weer letterlik gaan stop in 'n parkeerarea vir shopping, nie hoe nie, parallel parkeer in 'n besige parkeerarea EN gangparkeer ( die agteruit ene ) Gelukkig kry ek toe my lisensie en het hom sommer vir 5 jaar vooruit betaal, ek gaan dit wraggies nie weer doen nie :)
Ons kom kuier in Februarie by die huis! Kan nie meer wag nie! Ek vertrek die 8e Februarie en sal dan die eerste naweek by my boeties en sussie in Pretoria kuier en dan die Maandag vlieg ek Kaap toe. So ek sal van die 11e Februarie tot so die 1e Maart in die Kaap wees en dan die laaste week gaan ons bietjie Dikhololo toe vir 'n week.Ons sal seker ietsie vir my verjaardag op die 21ste ook kan organise, so sal almal op hoogte hou :) Dit sal heerlik wees om te kuier en op te vang met almal se nuus en stories, so kom maak groot asseblief 'n draai! Ons sal seker meeste van die tyd in Stellenbosch by my ouers wees. Ek hoop my SIM kaart werk nog daai kant, sal julle nader aan die tyd laat wat my nommer is, dan kan ons reel as ons daar is.
Hoop dit gaan nog baie goed met almal! Baie liefde m

08 December 2007

Gerno verjaar!!!

My boetie, Gerno verjaar vandag!
Baie geluk met jou verjaardag! Mis jou baie!